Consideraciones póstumas

La vida pende de un hilo
y es pesada la vida

Vincent Oliphant



gebed tot die bome

mag ek altyd die voorreg hê
die voorreg om julle só te sien staan
sagmoedige stil monnike

julle wat nog nooit ‘n hand teen iemand gelig het nie
gee my iets van julle heiligheid
sodat ek uiteindelik die byl neer kan lê
hierdie wapen wat ek so ongenaakbaar teen julle opneem
julle wat só hulpeloos met jul voete in die aarde geanker staan

waardige vriende
julle wat ten spyte van alles steeds my asem aan my gee
gee my méér
gee my die wysheid om te weet
hoe ek julle liefde kan beantwoord
sodat ek weer die tuin mag betree
om sáám met julle my plek in te neem
om sáám ‘n nuwe gees met die grond te laat groei
my vriende
my behoud

Vincent Oliphant


iets

iets wat verlore moes wees
iets uit ‘n vergange tyd
iets sonder naam
het behoue gebly

ek sien dit as jy uitgelate lag
en jou oë blink
soos granate

as jy brabbeltaal met babas praat
of in stilte
gare deur ‘n kleed laat gly

iets wat verby moes wees
iets wonderbaarliks
iets waardeur ek ‘n kykie
op die geheim van lewe kry
is my beskore

ek is uitverkore

Vincent Oliphant











No hay comentarios: